"Plaasensemble" deur GEORGE WEIDEMAN [boodskap #46550] |
Sa, 14 Julie 2001 11:52 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
PLAASENSEMBLE
(Simfonie vir blasers, honkie-
tonk en mezzosopraan)
George Weideman
Druk ore toe. Die blasers is hier.
Of jy nou met varkedraf
of pitte of 'n gerf hooi opdaag,
hulle wag vir jou. Met instemming.
Saxofone kom nog oop en toe
met gespreide vlerke aangemakou;
tussenin, per ongeluk, die toetergeskal
van 'n klaroen. Al die kleppe oop,
oranje gulsbekke rondom. Een of twee
dissipels van Louis Armstrong. Sissend
van haas vir die finale aanslag
op jou ore. Jy tik met die aanroerstok
en die bokkolonie begin godslasterend
op hulle fagotte blêr. Langsaan, vol
misnoë, die stoetramme. Skoorsoekerig
met hul ramshorings.
Ingestel op harmonie en melodie,
hul asems soet en opdringerig,
die hobospelers. Tamaai tonge
wat vasvat. Jerseys wat ril van plesier.
Uit Boas se bulkamp kom die bastuba
en, afwisselend, hulle wat gestorte
are oppik: vinke en piekeloë
met fyn kwêlafluite en piccolos.
n Hele Heilsleër van hoenders
het ver in die veld hul bus verpas.
Kom, sketterend en onwaardig,
dwergtrompette vasgeknyp, aangeyl.
Honkietonkdonkie verbeel
hom 'n cowboykroeg. Hyt skoon
vergeet om in te stem. Karring aan
en aan. Sy tande soos geel klawers.
Nog verder opsy, neus omhoog,
wagtend vir haar solo, diva perd;
nie net maar nog 'n merrie nie. Callas,
minstens, op die toppunt van haar roem.
Eers as elke sak geskud is,
elke emmer omgedop, sak 'n stilte
oor die oopte. Net die ottegesnork
en, kort-kort, mesdun, 'n vals fagot.
Dempers? Daarvan weet hulle nie.
Sweer Stockhausen het saans
stoppels kaf uit sy hare geskud.
|
|
|